Jy weet, ʼn kind se gehoor is baie selektief – vra maar net vir my ouers. As daar geroep word om iets te doen, dan is almal doof, maar as iemand ʼn sjokolade of lekkerding agter geslote deure oopmaak, dan hoor daai kinders die papiere en wil ook hê.

In ons huis, as my ma skelmpies sjokolade wou eet, en ons het haar gehoor, dan het sy altyd gesê: “Jy’s erger as die haas.”

Ek het altyd gedog dis een of ander Afrikaanse idioom wat ek nie geken of verstaan het nie (amper soos ‘lepel in die dak steek’). Toe vind ek eers later uit van die haas. Ek het ook uitgevind dat die ‘haas’ eintlik ʼn konyn was.

My pa het my vertel dat hy en my ma baie jare terug (lank voordat kinders in die prentjie was) in ʼn afgeleë dorpie gebly het in ʼn woonstel. Daar het hulle ʼn konyn gehad met die naam Anita waarvoor hulle KitKats gevoer het. Blykbaar was daardie konyn baie lief vir sjokolade en het sommer van ver af gehoor as ʼn sjokolade oopgemaak is.

Ek is nie ʼn veearts nie, maar ek dink nie KitKats is deel van ʼn gebalanseerde dieet vir ʼn ‘haas’ nie. Tog het die konyn lekker gelewe en my ouers het hom later vir ʼn ander oom gegee, en kort voor lank was daar ʼn helse klomp klein konyntjies.

Behalwe vir die konyn (wat wonder bo wonder nie diabetes gekry het nie), het my pa (en ander vriende) selfs in ʼn universiteitskoshuis ʼn troeteldier gehad – ʼn krimpvarkie.

My pa het vertel:

Weet jy, ʼn krimpvarkie is darem die mooiste klein diertjie. Hy het amper so gesig soos ʼn skaaphond – ʼn mooi ding. Jong, en hy word mooi mak. Ons het een in die koshuis gehad op universiteit. ʼn Outjie van Upington het hom teen die pad gevang en ons het hom in die vierkant daar in die koshuis gesit, maar daar was blomme, bome en so aan. As jy hom daar in sit, dan kan hy ook nie uitkom nie.

In die aand dan moes die eerstejaars motte en goggas vang vir die krimpvarkie. Die krimpvarkie kon kies uit krieke, motte, rysmiere, en enige ding wat die eerstejaars kon vang. Hoor hier, as die deur van daardie vierkant oopgaan dan kom draf hy aan. Hy weet mos dis dan voertyd. Hy was so mak, hy het uit jou hand uit geëet.

Maar ek weet nie wat het van hom geword nie.