Ek dink as mens ʼn fout maak, moet jy dit probeer regmaak of net daarmee leef. Hier is die storie van iemand wat ʼn fout (onwettig) probeer regmaak het.

My pa het vertel:

Ek was lank bevriend met Oom Hannes, jy het hom ook mos ontmoet. Oom Hannes was vroeër jare in Welkom en hy het in die myn gewerk. Toe begin hy en ʼn pel ʼn tweedehandse motorwinkel waar hulle tweedehandse karre verkoop het. Hulle het goed gedoen, en daai tyd was die ekonomie sterk.

Die myners het van sesuur die oggend tot sesuur die aand gewerk – dit was ʼn skof. Toe is daar ʼn ou wat ʼn kar wil koop, maar hy het ʼn Cortina karretjie wat hy wil inruil. Hy werk by die myn en toe kom hy eers die aand na ses by oom Hannes aan. Jy weet, hy het darem ʼn afspraak gemaak dat hulle kan besigheid doen na ure. Dit was seker in die winter, want teen sesuur was dit al donker.

So besluit oom Hannes dat hulle besigheid kan doen, en hulle sal sy kar inruil. Maar onthou nou, hulle praat besigheid in die aand. Dit was so bruinerige Cortina en hulle gee hom so twee duisend vir die kar. Daardie tyd was dit sommer nog baie geld. Hulle trek die Cortina daar in die erf en die myner ry met sy nuwe kar daar weg.

Die volgende more, toe sien hulle daar is ʼn vreemde kar in die erf. Die kar is sommer so met ʼn kwas geverf, jy weet, dit lyk vreeslik. Oom Hannes vra vir die ander ou, “Ken jy daai kar?” “Nee,” sê hy, hy ken hom ook nie.

Toe hulle nou lank gekyk en gewonder het, toe kom hulle agter dis die kar wat hulle in die donker ingeruil het.

Hulle kry daai kar toe nie verkoop nie. Die myner het hulle deur die ore gewerk.

Toe besluit oom Hannes, nee wat, hy het versekering, hy gaan die kar aan die brand steek. Hy ry toe so uit daar op ʼn pad na ʼn myn toe, en daar van die pad af. Hy gooi toe die kar met petrol aan die binnekant en steek hom aan die brand. Hy maak toe dat hy daar weg kom.

Die volgende oggend gaan kyk hy en toe sien hy die kar het nie gebrand nie. Die vensters was toe, so daar was seker te min suurstof of iets. Behalwe dat alles binne swart van die roet was, het die kar min makeer en hy het nog gery. Ai, maar oom Hannes was darem ʼn planmaker gewees.

Hy gaan probeer toe maar weer, en daar is baie myne en verlate paaie. Hy ry toe verder na ʼn myn toe en trek daar by ʼn sypad in. Hy gooi hom toe lelik met petrol en steek hom aan die brand. Hy is toe vinnig daar weg.

Toe daai petrol vlam vat, toe kom daar ʼn ou van die myn af wat brandblussers diens. Hy het toe 70 brandblussers wat reg is, en die ou dink toe hy gaan ʼn vreemdeling ʼn groot guns doen. Daar spuit hy die brand dood. Maar toe is daai kar lelik in sy kanon in!

O, toe is oom Hannes lelik kwaad, hoor! Natuurlik het die versekering nie uitbetaal nie, en hy het maar die skade gely. Dit wys jou, ʼn mens doen nie sulke goed nie.