Baie van my familie aan my pa se kant is rokers. Ek het gelukkig nooit begin rook nie, en dis ook maar goed so, want sigarette is verskriklik duur in Australië. Dokters hou ook nie van ʼn gerokery nie.

My pa het vertel:

Jou oom Renier is een keer hier na Kimberley toe. Sy hart het so van slag afgegaan en dan voel ʼn mens bitterlik sleg. Dan gee hulle pille en dan is dit weer reg. Ek weet nie of hulle hom geskok het ook nie. (Ek weet nie of skokterapie vir hierdie kwaal gebruik word nie, maar nou ja.)

Maar so moet hy Kimberley toe vir ʼn angiogram. Hulle druk mos die kameratjie by jou lies in tot by jou hart. Jy kan nou dink, ek sal nie baie daarvan hou as hulle ʼn ding hier in my lies indruk nie. Maar jy voel niks want jou are het nie senuwees binne nie.

Nou sien hy op die skerm hoe die kamera afneem en hoe dit deur sy lyf gaan. Die suster is die een wat die ding doen, die dokter is nie eers by nie. Die dokter kom kyk na die video na die tyd. So het daai suster baie geleer.

Later is die kamera so binne in sy hart en sy bekyk die aartjies en so aan. Nou moet jy weet, toe is oom Renier al 59 jaar oud, en het hy al 45 jaar lank gerook. (Ja, jou wiskunde is korrek – hy was veertien toe hy begin rook het.)

Sy kyk die are so en sê, “Meneer, hierdie are is so skoon, jy het in jou lewe seker nie aan ʼn sigarette gevat nie.” Hy kyk haar so en sê, “Nee ou niggie, nou maak jy ʼn moerse fout, hoor.”

Daar is ʼn ander storie. Nou ek weet nie of dit by dieselfde dokter was nie, maar die dokter het Renier so uitgetrap oor sy gerokery en hoe hy daarvan sal doodgaan en so aan. Maar die dokter was sommer so sarkasties met hom – jy weet, sommer ongesellig.

Oom Renier sê toe vir die dokter, “Jy weet, daar is ʼn studie gedoen in Kanada en dit het bevind dat mense wat nie rook nie ook doodgaan.” Toe is hy sommer sarkasties terug.

Toe is daai dokter die hel in vir hom.