My pa het baie jagstories, en met die jare het hy baie gepraat van tiere. Nou, ek weet nie veel nie, maar ek weet daar is nie tiere in Suid-Afrika nie. My pa het verduidelik dat hulle ʼn luiperd ʼn tier genoem het in die Kalahari. Eendag toe kom daar ʼn storie van ʼn tier in ʼn boom uit.

My pa het vertel:

Ek weet nie waar dit was nie, maar die ouens keer die tier vas in ʼn boom. Toe maak die skool op Severn sommer toe, want almal kom kyk toe vir die tier in die boom.

Daar was baie bakkies rondom die boom, so in ʼn sirkel. Op een van die bakkies is daar ʼn vanghok op die kap. Natuurbewaring is natuurlik ook daar. Hulle bel die veearts, en hy luister met die radio hoe hulle praat. Natuurbewaring is daar met ʼn pylgeweer, en hulle moet nou die tier pyl in die boom.

Onthou nou, daar staan omtrent 30 bakkies rondom die boom en natuurbewaring se mense ry daar tussen hulle in. Hulle almal het ook gewere, want dis mos maar boere en so. Dis haelgewere en jaggewere en ʼn R4 en so aan.

Daar spring toe iemand se ou Jack Russeltjie uit ʼn kar en hy blaf. Daai tier besluit toe dis sulke tyd. Toe daai tier daar afspring, toe hardloop die Jack Russel na sy baas toe. Dit was een van die natuurbewaring ouens. Daar klap die tier die hondjie twee bloederige klappe en bestorm die mense. Daar was omtrent marakkas.

Soos die tier die mense storm, hoor die veearts alles oor die radio. Toe hoor hy hoe skiet die gewere enkelskote. Hy hoor net die mense skree, “Moenie skiet nie!” Niemand luister nie, want daar is geskiet. Blykbaar het hulle die tier net ʼn houtjie teen die been gegee – niks ernstig nie. Niemand kon hom raakskiet nie. Ek dink een ou is op die boud gebyt.

Almal sien toe hier is moeilikheid, en die ouens spring orals te skuiwe, onder andere in die tierhok. Die hok is so met tierdraad omlyn.

Maar die tier is toe daar in die rigting van die bakkie waar die vanghok is. Die ouens op die bakkie (natuurbewaring) het gedink hulle gaan gevang word. Daar kruip toe drie ouens in die tier hok in. Die ou met die stukkende boud het ook probeer inklim. Onthou nou, dit was teen ʼn stink spoed en ʼn tierhok is klein.

En daar vat die tier die pad.

Na die kabaal, toe hulle daar aankom, toe is daai drie ouens nog steeds in die tierhok, maar hulle kan nie weer uitkom nie. Die mense moes ʼn tang kry en die drade afknip.

Weet jy, ʼn mens is ʼn simpel ding.