Ek weet my pa is baie lief vir my maar sy geheue is baie selektief as dit kom by ons, sy drie kinders. Met die wat hy al die stories vir my vertel het vir hierdie blog, het ek sy geheue sien werk. Dis baie snaaks dat hy die telling van ‘n rugbywedstryd van veertig jaar terug kan onthou, maar hy het my al gebel om te hoor wat my geboorte datum is.
Dit was ʼn vreemde gesprek, want hy vra vir my wanneer ek gebore is en ek wou eers sarkasties wees en sê, “Ek dink dit was ʼn Dinsdag maar die gebeure van die dag was vaag”, maar toe gee ek maar eerder ‘n ordentlike antwoord. Dit was nie so erg nie, maar toe vra hy vir my broers se geboortedatums ook. Toe trap ek hom uit.
Ek het so bietjie sleg gevoel, maar hoe vergeet mens so iets? Ek het al gelees dat ʼn mens se emosies ʼn baie sterk invloed op jou geheue het. Daarmee bedoel ek dat as jy iets ervaar en daar is ʼn baie sterk emosie daaraan gekoppel dan word dit in jou geheue ingebrand. Was daar nie sterk emosies toe ons gebore is nie? Maar ek weet daar is. Ek het ʼn teorie.
My pa se geheue het verswak met ons klomp kinders. Ons het hom uit die slaap gehou met ons gekerm in die nag. En ons het onself keer op keer ontydig beseer. Een keer het ek my kop oopgeval op ʼn Saterdagmiddag en toe moes my pa my hospitaal toe vat. Die arme man kon nie eers die rugby kyk daardie middag nie. Tussen die min slaap, kinders aan die lewe hou, kinders wat kerm, kinders wat nie hulle kos wil eet nie, en nie luister nie, het sy geheue seker ʼn knou gekry.
En dan is daar rugbywedstryde. Ek dink daar is net goeie emosies met rugbywedstryde, want selfs al verloor my pa se span is dit ʼn redelike goeie ervaring. Hy kan skree op die skerm, en meeste mense sien dit as normaal (veral as die Bokke speel), en die rugbywedstryd vra hom nie vir geld, of om dit by sy vriende te gaan aflaai of oplaai wat aan die ander kant van die stad bly nie, en dit kla nie dat dit moet skottelgoed was nie. Dis net daar om geniet te word.
Dis my teorie.