My ma is baie soos my pa, maar tog ook glad nie soos hy nie – dis vreemd. Sy het ook die geneigheid om die snaaksste goed te sê.

Baie soos my pa, het sy iets te sê oor alles, maar sy het ook die gesigsuitdrukking om alles wat sy sê priceless te maak.

My musiek

My ma het al baie te sê gehad oor die musiek wat ek luister. As sy wel van ʼn liedjie hou, dan weet sy nie wat hulle sê nie. (Soms is ek ook nie heel seker nie.)

Ek het ʼn heel paar jaar terug my Linkin Park-fase gehad. Ek was mal oor hulle, en ek het hulle een CD die hele tyd geluister. Ek het dit opgesit as ek huis skoongemaak het of my ma gehelp het om te bak (veral as daar koek gebak word).

Een keer het ons koek gebak en ek het my Linkin Park CD opgesit. Dis rock musiek en die hoofsanger het ʼn baie growwe stem gehad en kon skree-sing. So, jy kan nou dink hoe het dit geklink.

Na ʼn paar minute het my ma skielik stil gestaan en geluister na iets. “Het jy musiek opgesit,” het sy gevra. Ek het ja gesê. Sy sê toe, “O, ek dog eers dis ʼn roomys karretjie.”

Ek het gedink dis vreemd want ek is redelik seker roomys karretjies speel nie daardie tipe musiek nie. Jy wil hê die kinders moet na jou toe hardloop, nie weg van jou af nie.

My ma en haar kinders

Behalwe vir haar vreemde kommentaar oor my musiekkeuses, is my ma baie lief vir haar kinders en baie beskermend oor ons, soos enige goeie ma moet wees.

ʼn Paar jaar terug het een van my broers op ʼn myn gewerk in ʼn dorpie aan die ander kant van die land. Hy het darem by ons neef gebly, so daar was darem ʼn gesig wat hy geken het.

Een dag het my pa hom gebel, en teen daardie tyd was dit ʼn paar dae vandat hulle gepraat het. Toe my pa die foon vir my ma gegee het om te praat, toe was hierdie die eerste ding wat sy gesê het: “Hallo liefie, ek is lief vir jou. Drink jy nog jou vitamines?” Dit was so snaaks, want my broer het nog nie eers tyd gehad om te groet nie, en toe vrae my ma al vrae oor sy gesondheid.

Op dieselfde trant, my ma het al baie gesê dat sy so bly is dat sy ʼn dogtertjie gehad het, want sy het klaar twee seuntjies gehad. Ek het een keer vir haar gevra wat sou sy gedoen het as ek ook ʼn seuntjie was.

Ek verwag toe dat sy sê, “Dit sou nie saak gemaak het nie, solank jy net gesond was”. Toe is haar antwoord nie wat ek verwag nie. Sy sê toe, “Ag, ek sou maar gewoond geraak het daaraan.” Ek het nie regtig geweet wat om daaroor te sê nie.

My ma in die kar

Soms doen my ma net vreemde goed terwyl iemand anders bestuur. Eendag het ek winkels toe gegaan met my ouers en soos ons gery het, het ons gewag vir ʼn kar om verby te ry sodat ons in die hoofpad kan inval.

Die stadige kar het my pa irriteer. Ek sien toe die kar het ʼn leerlingbestuurderplakker op, so ek het simpatie met die persoon gehad.

Soos die kar verby gery het, het my ma vir die mense gewaai. Hierdie is die gesprek wat gevolg het:

Ek: O, ken ma daardie mense?

Ma: Nee.

Ek: Maar hoekom het ma dan gewaai?

Ma: Want hulle het so senuweeagtig gelyk (en toe giggel sy).

In die winkels

In die winkels het my ma het die gewoonte om nooit die voorste artikel op die rak te vat nie. Daar kan iets fout wees met die eerste artikel en sy vat gewoonlik so die derde een van voor af. Dit het my altyd verskriklik geïrriteer.

Dit het al so erg geraak dat ek nou ook dieselfde ding doen as ek winkels toe gaan. My kinders gaan dit seker ook eendag doen. Ai, tog, wat word van ons?

My ma se oplossing vir ʼn spook

Ek dink my ouers se huis spook. Ek het baie keer goed gehoor, soos iemand wat my naam roep en dan het niemand my geroep nie. My ma het dieselfde ding ervaar. Dit was bietjie steurend. Eendag het my ma my vertel van ʼn ontmoeting met ‘n spook in die huis.

Ma: Ek dink ek het ʼn spook nou die dag gesien.

Ek: Regtig? Wat het Ma gedoen?

Ma: Ek het die Doom gekry!

Indien jy nie geweet het nie, Doom is insekdoder. Dit was vir my skreeusnaaks. Wel, as Doom werk vir kakkerlakke, hoekom sal dit nie werk vir spoke nie?