Hier is een van my pa se vele jagstories. Hy het vertel:

 

Ek en oom Herman het gaan jag daar in Botswana. Ons het na ʼn plek met die naam Khakhea gery op ʼn ander ou se lorrie, met ʼn geleende Lee-Metford. Ons het by ʼn ander ou gaan kuier en hy het ons gevat vir ʼn jag met ʼn lorrie. Nou wil ons gaan skiet, en ons het toe darem gemsbokke gekry.

Ons ry toe so, en daai wêreld was mooi daai jare – so 1978 – en dit het baie gereën. Ons kry toe so laagte en die ou stop en hy het ʼn paar honde by hom. Ja nee, hy het darem ʼn paar fris honde by hom. Die honde was net daar vir ekstra beskerming as die gevaar naby kom.

Daar kry ons toe leeuspore – vars leeuspore. Weet jy hoe groot is ʼn leeu se poot? Jy kan jou nie indink nie. Jong, jy weet daai honde ruik daai leeuspore, en dan weet hy dit ruik na gevaar. Sodra hy daai reuk gevang het, dan sit hy die punt van sy stert so teen sy naeltjie uit respek vir die groot gevaar wat hy ruik.

Maar in elk geval toe ry ons, en ons kom by so, hulle noem dit ʼn brakpan, so soutpan. Die wild gaan lek daar om bietjie sout te kry, maar dan is hy sommer 50 hektaar groot. Jy kan met ʼn vliegtuig daar land. Daardie pan het sulke digte bosse aan die kant en as dit reën staan die water bietjie daar, maar wat, hy verdamp gou weer.

Toe ek daar was, het ek ʼn storie gehoor van ander ouens wat ook gaan jag het. Hulle het toe by ʼn pan gekom. Daar staan die ouens bymekaar en kuier tussen die bosse aan die kant van die pan, en hulle het gewere by hulle.

Die een ou het ʼn vreeslike maagseer en hy moet bossies toe gaan. Jong, nou loop hy so ent in die bosse in, maar wat hy toe nie weet nie is dat daar naby ʼn trop leeus is. Die trop het groot leeus en jong leeus en so aan.

Die ou het gelukkig nou net sy broek opgetrek en belt vasgemaak; hy was toe darem reg om te hardloop. Skielik toe hoor hy ʼn groot kabaal. Die leeus het baklei onder mekaar, en dit klink asof hulle byt vir doodbyt. En daar hardloop ʼn leeu, ek dink ʼn wyfie, af op die ou in die rigting van die pan in.

Toe die man die lawaai hoor en leeuwyfie sien, toe hardloop hy reguit in die pan in om weg te kom. Nou is die ander ouens so vyftig treë weg en hulle hoor ook die lawaai van die leeus. Dit was nie lank nie, toe sien hulle hoe die ou, maar hy is net so vyftig treë in die pan in, en hier kom die leeu agter hom aan. Hulle sien vir elke tree wat die ou gee haal die leeu hom omtrent vyf treë in.

Daar sien hulle die leeu gaan hom nou omspring en doodbyt, maar toe die doodbyt moet kom, toe hardloop die leeuwyfie verby… tot die verbasing van almal wat kyk.

Dis hoe groot die leeuwyfie vir die ander leeus geskrik het. Sy wou net wegkom van die leeus.

Nou ja, dis die storie daai en ek weet nie wat het verder gebeur nie.