My pa het hard gewerk op die plaas en hom soms bietjie misgis.

My pa het vertel:

Ou sus, daar was op ʼn slag ʼn vendusie in ʼn droogte en daar was ʼn kraal met bokke. Daar was agt bokooie en my pa het hulle gekoop vir R5 stuk. Jou oom Herman sê toe vir my pa, “Kom ons gee vir Mollie (sy vrou) en Ma die bokke. Dan het hulle darem ook ʼn boerdery”. Hy stem toe in en Herman betaal R20 vir Mollie se vier bokke. Dit was sommer groot bokke. Daai bokke kos seker nou maklik R1500 en hulle het net R5 betaal daardie tyd. Toe het my ma en Mollie elkeen vier bokooie.

Nou moet hulle gemerk word, want my pa het ook bokke. Pa se bokke is gemerk met ʼn halfmaan wat op die linkeroor uitgesny is. Ma en Mollie se bokke word gemerk met ʼn stompoor.

Jong, maar dit is vrugbare bokke en hulle teel aan. Man, hulle het sommer ʼn lekker boerdery.

So moet ek skaap tel. Nou tel ek by die hek van die kamp uit, en as daar fout is, dan moet ek hulle gaan oortel by die kraal. By die kraal het ons ʼn skaaphond gehad wat nogal saam met die bokke veld toe geloop het. Eintlik was dit nie nodig nie, want daar was ʼn skaapwagter ook.

Jong, ek het vir jou gesê ʼn bok is moeilikheid – sommer van kleins af. As die bokkies so drie maande is, dan is hulle bitterlik spelerig, hoor.

Nou staan en tel ek, en nou moet ek die hek so hou dat die skape kan kom dat ek hulle twee-twee kan tel. Maar onthou nou, ek tel skaap en bok deurmekaar. Dan kom die boklammers, en daar spring een op die hondehok en spring toe sommer tussen in hier by die skaap wat ingaan. Hy kon nie wag nie. So spring hy in die kraal.

Jong, maar ek vererg my. Toe staan ek met hierdie hand so en die hek vashou en met my linkerhand staan en tel ek. Maar ek sê vir jou, dis ʼn kuns om skaap te tel. In elk geval, daar kry ek die boklam in die hande en ek kry hom net aan die oor gevat, maar ek pluk hom terug. Dis een van my pa se boklammers en hulle is mos gemerk met die halfmaan van voor en agter, so dit beteken hier bo is ʼn stukkie van sy oor uitgeknip.

Toe ek daai lam vat, toe vat ek hom net mooi waar die sny bo is, die halfmaan bo en onder en ek pluk hom terug met mening. Daar pluk ek sy oor af. Jy weet, hy skeur af waar die snye is. Toe het hy sommer ʼn stomp oor.

In elk geval, ek vergeet daarvan en sê niks vir niemand nie, maar ek dink daai lam het darem ʼn les geleer.

Jong, maar my pa was fyn. Hy loop met sy kieries daar eendag, en ek tel die skaap. Hy vra of alles reg is, en ek se ja. Teen daardie tyd was die lam se oor mooi gesond, maar dit was nou ʼn stompoor. So, dit was eintlik my pa se bok, maar dit lyk nie so nie.

Ek kan sien my pa is kwaad en hy sê, “Jong, ek is kwaad. Hier is ʼn verdomde boklam van ma en hy loop rond en suip aanmekaar aan ʼn ooi van my. Hy suip my ooi se melk uit.”

Ek het hom nooit die waarheid vertel nie.