Eendag sit ek en my pa en hy vertel vir my stories. Op ʼn kol sê hy, “Jong, ek kan nie vir jou die storie vertel as jou ma by is nie.” Toe word daar gekyk waar is my ma en ons besluit dit is veilig.

My pa het vertel:

Daar was so ou in Kuruman, Erik, en hy het ʼn lekker besigheid gehad. Ek kan nie onthou presies wat hy verkoop het nie, maar seker so bietjie van alles. Jy weet, goed wat die boere wil koop, en ook kruideniersware.

Jong, hy het geld gemaak, en hy ken sy kliente. Hy het daar baie brandewyn en Coke en ys gehad. As daar ʼn kliënt daar inkom is die eerste wat die meisies moet vra of hulle nie ʼn dop wil hê nie.

In elk geval, daar is toe blykbaar ʼn baie mooi meisie wat daar werk. Sy is ʼn getroude vrou, maar nog jonk. Toe sien jou oom Renier dat Erik haar so loer. Later het die meisie bedank en toe gaan bly sy daar op ʼn plaas baie ver in die Kalahari in met so dooierige mannetjie.

Dan kom kuier die mense, maar toe het sy bekend geword daarvoor dat ʼn mens eintlik moet gaan kuier as haar man nie daar is nie. Ai, en een ou, Marius, hoor toe die man is vendusie toe en hy gaan kuier daar en hy sien toe die vroutjie is gewillig vir ʼn lekker kuier. En hy kuier toe lekker.

Toe hy nou klaar gekuier het en wil ry, toe sê sy nee, hy moet haar eers betaal. Hy is toe lelik deurmekaar, en vra nou hoe nou? Sy dreig hom toe en sê as hy nie betaal nie gaan sy sy vrou vertel. Hy vra toe hoeveel en sy sê R15 000. Marius sê hy het nie soveel geld nie, hy sal eers ʼn plan moet maak. Sy gee hom toe kans om die geld bymekaar te maak.

Hy gaan na ʼn prokureur toe en vertel hom die storie. Die prokureur vra, “Het jy by daai vrou geslaap?” “Ja,” sê hy. Die prokureur kyk hom net so en sê, “As ek jou goeie raad kan gee, betaal die vrou.” Daar betaal die man toe.

En weet jy wat is die ent van die storie? Tot ek ken die storie. Daar lê dit toe die hele Kalahari vol.