My pa is so ʼn regte pa. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. Ek kan net nie ʼn tyd indink toe hy nie ʼn pa was nie. Dit lyk asof hy net die tipe mens is wat dad jokes maak, en snaakse goed sê sonder dat hy besef – jy weet, pa-goed. Hier is ʼn paar voorbeelde van die goed wat my pa sê.

Skoonmaak

Net voordat die inperking begin het, het ons die buitekamer reggepak. Ek sê buitekamer, maar dit was my oudste broer se kamer vir ʼn lang tyd. Dit is nou hulle pakkamer omdat hulle nie meer ʼn garage het nie.

In elk geval, dit is nou hier waar my pa sy ‘manlike’ goed hou, soos gereedskap, verf, golfstokke, en ʼn klomp ander nonsens.

Daar is geen sisteem nie. Niemand weet waar enigiets is nie – dit is absolute chaos.

Ek was nie baie lus om my pa te help om die plek skoon te maak nie, maar ek het toe maar later. My pa het die mees pa-goed gesê soos:

  • (hy tel allerhande goed op en wys dit vir my) “Sien jy hierdie ding? Dit kos geld!”
  • (tel iets anders op) Kyk na hierdie ding, kyk hoe vuil is dit! (Ja wel, dit sou beter lyk as julle meer gereeld hier skoongemaak het.)
  • (tel goed in verbasing op) “Weet jy hoe lank soek ek al na hierdie ding?”

Ek wou al lankal daardie kamer regpak, maar my ouers het my nie toegelaat om enigiets weg te gooi nie. Toe mag ek nie sonder toesig regpak nie. Tog het ek geweet dat as my pa moeg raak vir skoonmaak, gooi hy makliker goed weg. Dit was presies my plan gewees daardie middag, en my pa het baie gemors weggegooi.

Inperkingstories

Aan die begin van die inperking het ons een middag buite in die tuin gestaan en my pa het my begin vertel van die spoegkompetisies wat hulle op skool gehad het. Daar was een ou wat van die een kant van die klas tot die ander kon spoeg. Toe kry ek ʼn demonstrasie van hoe ver my pa kan spoeg. Dit was bietjie gross, maar ook ʼn bietjie indrukwekkend.

My pa en tegnologie

Soos meeste mense van my pa se ouderdom, gee hy nie regtig om oor tegnologie nie. Eenkeer het hy die koerant gelees en toe lees hy die opskrif vir ons: “E-rommel raak ʼn probleem’. E-rommel is goed soos ou rekenaars en tegnologie wat mense nie meer gebruik nie. My pa was nie bewus hiervan nie. Hy sê toe, “Hoe kan dit ʼn probleem wees? Delete dit net.”

Daar is nog.

ʼn Paar jaar terug het my ma ʼn skootrekenaar gekry. Ek weet nie hoekom hulle vir haar een gekry het nie, want sy werk nie veel met rekenaars nie.

Ons het die internet konneksie en alles vir haar opgestel sodat sy dit kon gebruik. So, hier is ʼn stuk van die gesprek wat plaasgevind het rakende my ma se rekenaar.

Pa: Ek wil hê jy moet Google op daardie rekenaar sit.

Ek: Die rekenaar is verbind aan die internet. Google is op die internet.

Pa: Ek gee nie om waar jy Google kry nie, sit dit net op haar rekenaar!

My pa is net so ʼn regte pa – jy weet?

Hy is ʼn vreemde man maar hy is ons s’n en ons is baie lief vir hom. Ek hoop ons het hom nog vir baie jare om vreemde gedrag en sêgoed te hê.