Deesdae kla baie mense dat hulle nie meer enige plek kan gaan met vakansie nie, omdat petrol te duur is, en die koste om net aan die lewe te bly is te hoog. Maar ons vergeet soms hoe goed ons dit het in die moderne era, alles is so gerieflik. Ons vergeet hoe moeilik dit was om te reis in die verlede.

My pa het vertel:

Baie jare terug was jou oupa Paarl toe, daar na die onderwyskollege, en toe word hy ʼn onderwyser. Toe hou hy daar in die Boland skool tot Junie maand, en dit reën sommer gaaf daar. Maar waar hy vandaan kom, het dit nie gereën nie. Hy was omtrent 15 toe hy dit die eerste keer sien reën het. Hy het toe besluit hy is nie lus vir die reënery nie en kry ʼn pos op Kuruman.

Jou oupa het hier in 1924 in Kuruman gekom. Toe het hy met die trein van die Boland af gery tot op Vryburg, en van Vryburg af Kuruman toe gery met ʼn ossewa vir drie, vier dae lank.

Die wa kon darem so vier ton vat en dan nog passasiers ook. Dan klim hy van die wa af en hy loop so, en die oom wat die lorriedrywer is, die transporter, gee dan vir hom ʼn .22 as dit hier by middagete kom en dan sê hy “skiet vir ons ʼn bokkie”. Dan skiet my pa ʼn bok, en dan stop hulle en slag die bok en eet hom op en vanaand eet hulle verder aan hom en gaan slaap. Moreoggend trek hulle weer en so aan. Dit was vier dae tot in Kuruman.

Toe het die karre darem begin kom. Ek weet nie wanneer presies nie, maar seker so 1930 het my pa ʼn kar gekry. Toe’s hy sommer ʼn meneer. Ek dink toe het hy, toe hy begin skool hou het, drie pond tien gekry ʼn maand. Jy weet, dis ses rand twintig ʼn maand. Hy was nogal spaarsaam, en hy het nog by die koshuis ook gewerk. Hy het gespaar sodat hy grond kon koop. Sy salaris het later toe darem meer geword, en het hy die kar gekoop.

Ek dink nou sommer, die plaas wat my pa gekoop het, waarop ek groot geword het, het my pa by ʼn Jood gekoop. Toe my pa nog net belangstelling getoon het, het my pa na ʼn prokureur toe gegaan, toe sê hy, hy wil die plaas koop. Toe kos daai plaas 60 pond. Dit was R120, maar toe sê my pa hy kan hom net koop as hy ʼn verband kry op die plaas. Daar het hy die verband gekry van 60 pond en hy het die plaas gekoop. Dit was omtrent 880 morg vir 60 pond. Kan jy dit glo?

In elk geval, daar breek die vakansie aan en my pa wil gaan kuier by sy mense in Kakamas, maar daar is net grondpaaie daarheen. Nou, Kathu is so 50 kilometer van Kuruman. Dan spring hy 6-uur die oggend weg in Kuruman en hy ry na Kathu. Dit was grondpad, maar dit was ʼn bietjie sanderig. Dan, van Kathu af Olifantshoek toe is omtrent nog 80km. So as hy sesuur die oggend op Kuruman wegtrek is hy baie gelukkig as hy die aand sesuur in Olifantshoek aan te kom, want dis 140km verder. Nou, van Olifantshoek af is die pad eers sanderig. Dis ʼn 160km tot op Upington en dan is dit nog omtrent 130km tot op Kakamas.

Maar weet jy hoekom het hy so lank gevat? As hy so ry met daai kar met die dun bande, en die sand is so dik, dan sit hy vas. Dan moet hy stop en kyk, orals waar daar plase was, of daar ʼn fontein en bome met water was. Dan kyk hy watter plaashuis is die naaste en dan loop hy daarnatoe. Daar vra hy of hulle hom nie tog met ʼn span osse sal uitsleep nie.

Dan nooi hulle hom, en gee hom eers kos, dan word hy uitgesleep met die osse. Nou moet hy weet, die osse moet eers bymekaargemaak word en gespan word, en dan word hulle eers kar toe gevat. Hy ry dan seker so 20km en dan sit hy weer vas. Dan moet hy weer deur die hele proses gaan. Dis nou maar wat ek onthou van wat hy vertel het.

Wat van Olifantshoek tot by Upington gebeur het, weet ek nie, want dis eintlik die pad wat vreeslik sanderig was. As hy gelukkig was, het hy die eerste dag gery tot op Olifantshoek, die tweede dag tot by Upington, en die derde dag het hy gery en dan die aand was hy in Kakamas – drie dae se ry.

Onthou, vir daardie tyd was dit eintlik baie vinnig, want voor motorkarre was dit twee weke se trek met perdekarre gewees.

O, en om te dink dat hulle met daai simpel karre gaan wild steel het in Botswana. Die een ou het mos gesê as daar Land Cruisers soos ons dit nou ken in die sestigs was, was daar boggerol wild in Botswana oor.

Ag, weet jy, dis nou maar hoe die mense gelewe het daardie tyd. Hulle het maar gedink dis normaal om so te ry.