Soos wat ek my pa se stories al so oor die jare geluister het, klink dit asof hulle lief was (en is) vir kattekwaad. Maar soms het hulle nie moeilikheid gesoek nie, maar dit het hulle uitgesoek. Soos byvoorbeeld met my oom, en sy vreemde geskiedenis met al wat ʼn bobbejaan is.

(Ek sê nou ‘bobbejaan’, maar gorillas, sjimpansees, ape, en diesmeer is vir hierdie ongekultiveerde dame alles dieselfde. Party bobbejane is net groter.)

My pa het die eerste storie jare terug by my neef se troue toevallig gehoor toe hulle buite vleis gebraai het (klink soos my tipe troue). ʼn Paar jaar terug het ek self vir my oom gevra wat was die storie.

My oom het vertel:

 

Ou sus, laat oom jou vertel van ʼn verdomde gorilla. Ons was so vier of vyf ouens wat vir ʼn langnaweek Durban toe gegaan het. Ons was studente en jong, ʼn student is ʼn snaakse ding.

In elk geval, toe is daar ʼn ‘House of wax’ op die strand gewees. Dan is daar ʼn hand van een of ander moordenaar wat afgekap is, en daar is ʼn pop van iemand wat vermoor is. Hier is ou Daisy de Melker, en daar is ʼn opgestopte hond wat ʼn ou verskriklik opgevreet het. Jy weet, allerhande sulke snaakse goed.

Dis eintlik donker, behalwe nou daar waar die ding staan. Die ander ouens loop nou sommer so rond. Ek kom agterna en bekyk en lees mooi elke ding. Hel, en hier is ʼn groot gorilla, maar sommer ʼn grote. En ek weet in hierdie land is daar nie gorillas nie. Hy staan so oop arms. Nou hier onder by sy voete is die plaat wat sê hoekom staan hy daar, jy weet, wat het hy gemaak. Natuurlik gaan ek nader en lees die ding.

En soos ek buk om te lees, daar gryp die ding my. Weet jy, ek het amper daardie plek afgebreek. Jy dink mos die ding is dood, ʼn pop. Hy het seker gesien hier kom ek en toe het hy hom reggemaak.

Hier gryp hy my en ek skrik dat hy vreeslik lag. Hel, ek het my byna vrek geskrik en almal lag.

 

Daar was nog ʼn storie van my oom se moeilikheid met bobbejane, ook toe hy ʼn student was.

My oom het vertel:

 

Ek was nog by die BOK (Bloemfontein Onderwys Kollege) en in die somermaande moes die manstudente langbroeke dra met mooi blink gepolitoerde skoene en ʼn wit hempie. Dan kan almal sien dis BOK-studente.

Die een dag was dit net voor pouse. Toe loop daar ʼn sjimpansee daar rond en so drie of vier polisiemanne loop agter hom aan. Die ding het daar by die dieretuin ontsnap. Ek kan nie onthou hoeveel studente was daar nie, seker so 200 of 300. Maar dit maak seker nie saak nie.

Hy was ʼn ruk lank daar in ʼn meisieskoshuis. Hy het goedjies daar geëet en so, maar toe lei die mense hom uit. En daar gaan hy toe na die volgende koshuis. Die mense het seker ook lekker geskrik vir die gedierte.

Die polisie wil die ding vang, maar hy wil hom nie laat vang nie. Hulle hou heeltyd ʼn hok met ʼn valdeur vir hom, maar hy wil nie inklim nie. Jong, en dis ʼn fris ding, ʼn sjimpansee.

Hy het by nog ʼn koshuis ingegaan en daar lui die klok vir pouse. En natuurlik kyk al die 200, 300 studente na die sjimpansee. Maar ek ken ʼn sjimpansee, ek weet hy is moeilikheid.

Toe staan ek en ʼn vriend ver agter in ʼn akkertjie waar roosboompies geplant is en wat papnat gespuit is. Maar daar is so voetpaadjie wat deur die akkertjie gaan. Jy weet, elke ent is daar so deurgang deur. Ons het daar bo-op ʼn walletjie gestaan en kyk. Almal is daar voor en kyk vir die sjimpansee en ek is bang vir die ding.

Op ʼn stadium toe draai die dinge en die sjimpansee hardloop in die rigting van die skare, en die studente storm weg. Hulle hol vir my en my pel plat in die roosakkertjie. Dis net modder. Hulle trap vir my, maar ek is nie oor hulle bekommerd nie, want ek weet agter hulle kom die wilde dier. Man, toe ek daar opstaan, toe is my hele hemp en broek so modderkolle getrap soos die klomp geskarrel het om weg te kom.

Hulle het toe later die sjimpansee gevang. Hy was straataf daar by die groendakkies, en hulle het hom daar rond by ʼn petrolstasie ingehaal. Maar jy weet dis ʼn snaakse ding as jy hier op die kant staan en daar kom ʼn sjimpansee verby.

 

Maar dit was nie die laaste nie. As ʼn bobbejaan nie hom gegryp of amper laat doodtrap het nie, het dit hom in die verleentheid gestel. Die keer was hy egter nie onskuldig nie.

Die keer het my pa die storie vertel:

 

Baie jare terug, in Kuruman, daar by die Oog, was ʼn bobbejaan wat aan ʼn ketting vas was. Jou oom en sy pelle was daar met ʼn skooltoer toe hy al ʼn onderwyser was. Daardie tyd het hy so ʼn dik swartraambril gedra.

Toe kom hy te naby en daar gryp die bobbejaan sy bril, en daar is hy weg. Ek was nie daar nie, maar ek dink jou oom het die ding getreiter.

En toe baljaar daai bobbejaan die hele Oog vol met die bril. Dan is hy hier onder, en daar bo, ensovoorts. Dit was ʼn groot storie om die bril by die bobbejaan af te kry.

Na ʼn halfuur het hy sy bril terug gekry, maar die lense was taamlik gekrap en die een oor was af, maar dit was terug.