Ek het gehoor daar was ‘n storie van springhase en my oom Renier, en toe het ek begin vrae vra. Blykbaar het hy baie kattekwaad aangevang in sy lewe.

My pa het vertel:

 

Ek dink jou oom het nog studeer, maar ek is nie heeltemal seker nie. Dan, Desembervakansies het jou oupa gereël dat Renier daar in die koöperasie by die houtwerkafdeling werk. As die mense kom hout koop dan moet hy net vir hulle dit op die regte grootte sny en so.

Ai, maar dan het hulle mos so gegaan in die aande en gejag tot vieruur die môre, en agtuur moet hy by die koöperasie wees. Hulle het seker ʼn dop gevat met die jag en gekuier en dan is hy vreeslik moeg die volgende dag.

Agter in die stoor het sakke gelê, maar nou ver agter. Daar was altyd ʼn ander werker voor gewees, en dan lê en slaap jou oom op die sakke daar agter. Die werker het hom net kom roep as daar ʼn kliënt was. Kyk, jy moes eers die hout gaan betaal het en so, en dan eers is jy stoor toe. So, hy het nie eintlik met die publiek gewerk nie, hulle het net gekom as hulle koop. En so het dit gegaan – hy het gerus in werktyd en ʼn ekstra geldjie gemaak.

Kyk, oom Herman, Combrink, en ou Brinkie saam het baie gaan jag en kwaad gedoen. In elk geval, Renier kom by die kuier aan na werk, en Brinkie het al klaar te veel gedrink. Hy is nie lus vir jag nie, hy wil net slaap. Toe het hy sommer daar op die grond uitgepaas.

Daar is toe op die plaas waar hulle kuier ʼn jakkals wat die mense mak gemaak het. Wel, hulle het hom probeer mak maak, maar jy maak nie ʼn jakkals mak nie. Die jakkals is daar met ʼn ketting vas, en Brinkie het gelê daar naby die jakkals.

Die ander het gaan jag en toe hulle terugkom toe lê Brinkie daar en die jakkals lê so styf teen hom en slaap, amper lepellê.

Maar om terug te kom by die storie, een slag het hulle sommer ʼn klomp springhase gevang, in ʼn streepsak gesit, en toe in ʼn kar se kattebak gesit. Toe het hulle die goed in die dorp gaan loslaat. Daai springhase hardloop die wêreld vol. Teen daai tyd was dit al amper lig, en springhase is dom en hulle ken nie van paaie nie, en so.

Nou, as jy by Kuruman inkom, by die eerste robot regs, daar was die rugbyveld gewees jare terug. As jy reguit aangaan aan die regterkant, ver regs, is nou die rugbyveld en aan die regterkant is die bank en die apteek en so gewees.

Toe Renier koöperasie toe ry om te gaan werk, hier sit ʼn springhaas kiertsregop voor die bank se deur. Hy wag dat die bank oopmaak.

 

Op die stadium van die storie, het ek vrae gehad.

Ek: “Maar hoekom het hulle dit gedoen?”

Pa: “Nee my kind, watse vraag is dit? Van stront aanjaag. Brandewyn het nie brieke nie.”

En hier duik toe ʼn paar ander interessante feite uit. My pa het verder vertel:

 

Maar weet jy, ʼn springhaas kan baie ver spring. Ek vertel jou nie wat ek gehoor het nie, maar wat ek met my eie oë gesien het. Man, as jy hom jaag en hy kan bietjie sien, hardloop hy vreeslik vinnig. Ek se vir jou, hy kan maklik vyftien meter spring as hy eers op spoed is.

As hy nou na sy gat toe hardloop, en hy’s eers in dan skop hy die gat toe dat die vyand nie moet inkom nie. Ek het gesien hoe oom Renier die springhaas sien in die gat inspring en daar druk hy sy hand in, en koeps, daar trek hy ʼn springhaas uit.

Ek weet nou nie of hy daai springhaas ook in die dorp losgelaat het nie.