As daar sewe kinders in ʼn huis bly, en dit nog op ʼn plaas ook, word daar seker baie gestry. Met die gestryery is daar altyd iemand wat besluit dis beter om die pad te vat. Daar was al ʼn paar wegloopstories op die plaas.

My pa het vertel:

Eendag kry my ma en jou tannie Marie stry, maar sommer ʼn fris stry en sy besluit toe sy loop weg. Maar jong, om op daai plaas weg te loop is ook nie so maklik nie. Ek meen, waarheen loop jy nou? Sy besluit toe sy gaan so padlangs dorp toe loop.

Jou oupa het daardie tyd met bramaanbulle geboer. Nou loop Marie daar by die ou huis uit, tot daar by die dammetjie bo en vat toe die pad soos wat ʼn mens daar by die plaas inry. Jy ken mos die pad, ʼn mens loop mos verby daar waar die krale later is.

Toe is sy fluks op spoed, dis darem so 300 tree verder. Nou is sy by die krale en toe sy opkyk is daar twee van die grootste bramaanbulle wat sy nog ooit gesien het en hulle blaas. Eintlik blaas hulle maar altyd, maar sy sien hulle is heeltemal te naby en blaas vir haar.

Sy het hulle so gekyk en besluit sy is nie meer kwaad nie. Nou, as dit haar 20 minute gevat het om tot daar te loop het dit haar twee minute gevat om terug te hardloop huis toe.

Ou sus, ek dink nou sommer aan ʼn ander storie.

My oom-hulle het een vakansie by ons kom kuier, en hulle het ʼn seun gehad. Hy was so oud soos jou oom Renier, seker so veertien of so. Hy het ʼn kettie gehad waarmee hy so lekker gespeel het.

Toe vat hy daardie kettie en kyk hoe hoog kan hy ʼn klip skiet, maar hy het langs jou oupa se kar gestaan en dit doen. Natuurlik, toe hy hom op sy hoogste kry, toe kom daai klippie teen 120km per uur dwarsdeur die kar se ruit.

Toe weet daai mannetjie hier is nou groot moeilikheid op pad. En jou oom Renier het hom ook beduie dat as my pa hom kry gaan hy moord in gedagte hê. Hy skrik toe so groot dat hy wegloop. Wel, meer soos weghardloop, want hy was baie bang vir my pa. Maar onthou, op ʼn plaas is dit nie maklik om weg te loop nie, want jy weet nie waarheen jy gaan nie. Hy is toe daar in die veld in.

Toe dit begin donker raak toe sien hy hier kom moeilikheid en dis nog winter ook. Hy weet toe hy moet maar terugdraai huis toe. Gelukkig het hy die pad gekry.

Toe hy by die huis kom, het my oom gesê hy sal die ruit betaal. Daai kind het so gehuil en verwese gelyk dat selfs my pa hom jammer gekry het.