My pa-hulle se kant van die familie was ‘n klomp mense. Hulle was sewe kinders, en my oupa-hulle was 12 kinders, as dit nou vir jou ‘n idee gee. Lyk my as die klomp op die plaas was, het daar altyd iets vreemd gebeur.

My pa het vertel:

Een langnaweek kom ek daar op die plaas aan en toe is daar ʼn helse klomp mense. Jou oom Ben het toe nog gelewe, en ek dink ek en ma was al getroud.

Toe loop daar ʼn tier, soos ons ‘n luiperd noem, op die plaas rond. Maar hulle kry net die spoor, niks verder nie. Maar oom Abraham het ʼn klomp jaghonde by hom, want hy het so jakkalse gejag. Hy besluit toe hy sal daai tier wys wie’s baas.

In elk geval, ek kom die aand daar aangery, so toe dit begin skemer word. Daar staan oom Abraham, by sy bakkie wat so canopy op gehad het, en die klap is oop.

O, maar daar is net bloed. Daar lê sy hond. Abraham vertel toe dat hy darem groot skade met die hond gekry het. Ek dog die tier het die hond gebyt dat dit bars, maar toe hoor ek die storie.

Toe hy geloop het met sy honde en tier soek, toe loop hulle in ʼn bobbejaanmannetjie vas. Jong, ʼn bobbejaan is ʼn helse gevaarlike ding. Maar dis toe ʼn heel paar honde. Kyk, ʼn bobbejaan gryp jou met sy voorpote en skop met sy agterpote. Hy sal sommer ʼn hond se derms uit skop.

In elk geval, daar is ʼn ‘n klomp honde, en daai bobbejaan gaan parkeer sy gat in ʼn haakbos dat hulle nie van agteraf kan kom nie. Maar die honde is toe ʼn bietjie bang, want dis ʼn fris bobbejaan.

Die honde het voor oom Abraham geloop en hy hoor die kabaal soos hy aankom. Toe hy nou daar kom, toe skiet hy die bobbejaan dood. Maar nou net voor dit, toe het sy braafste hond die naaste aan die bobbejaan gekom en daai bobbejaan vat toe die hond aan die oor en hy pluk. Al deel van die oor wat oorgebly het, was die deel wat nie in die bobbejaan se hand was nie. Hy pluk toe daai oor af. Toe bloei dit dat dit bars.

Maar die bobbejaan is geskiet, en toe is die hond sommer reg. Hy byt toe daai bobbejaan dat dit goed gaan. Die hond het seker gedink hy het die bobbejaan doodgebyt.

Maar oom Abraham was ʼn snaakse ou. Nou ja, toe het ons gebraai en gebad en alles. Die volgende oggend word daar weer gejag, maar ek het nie saamgegaan nie.

Oom Abraham en sy honde is weer by met die jagtog. Jong, hy was ʼn rowwe growwe ou. Toe ly sy hond aan bloedverlies en seerkop, jy weet, hy het seker hoofpyn van die oor wat af is.

Toe Oom Abraham daar by die hek stop, toe vat hy die hond en gooi hom uit die bakkie en hy ry vir hom weg dat hy agterna kan hardloop. Hy het gesê dis net sodat die hond ʼn bietjie kan warm word en weer regkom.

Toe hulle kom waar die bobbejaan teen daai tyd al stokstyf en dood in die stof lê, toe sien die hond daardie bobbejaan en toe is hy sommer weer pure meneer want hy dog hy het die bobbejaan so gebyt.

Dis nou maar die storie.