My pa het baie jagstories, al was hy gewoonlik nie saam op die jagtogte nie. Dan het hy ook baie stories van ander mense se skelmstreke. Hier is ‘n paar van daardie stories.

My pa het vertel:

My pa het ʼn plaas gekoop met die naam Titanic. Hy het ʼn buurman gehad, ʼn Van Rensburg ou. Toe eendag kom hy agter dat Van Rensburg sy bees steel, en hy ry na hom toe. Toe kry hy vir Van Rensburg binne-in die kraal, besig om my pa se beeste te brand. Daar het hy vir die dief ʼn paar warm klappe gegee.

Hy het daardie plaas net vir 18 maande gehad, toe verkoop hy hom. Hy het dit darem vir ʼn mooi wins verkoop, maar Van Rensburg het sy beeste so gesteel, hy kon dit nie meer uithou nie.

Dit was so 1945, daar rond. In 1948, ontdek hulle die rykste mangaanmyn in die wêreld op daardie plaas. Ek dink tot en met 1970 was dit die rykste mangaanmyn in die wêreld.

Ek twyfel of hierdie ʼn ware storie is. Ek hoop maar dit is nie, anders het ek lelik uitgemis om ʼn rykmanskind te wees.

 

Gepraat van steel, my pa het ook ‘n klomp stories van mense wat wild steel.

Hy het vertel:

Ek onthou nou sommer die storie. Baie ouens het daar in die Kalahari, in Botswana, so gaan wild steel. Dan skiet hulle gemsbokke en sny net die boude en die rug biltonge af en die res los hulle so vir die aasvoëls.

My pa het vertel, dan kom hulle aan daar waar die mense gemsbokke geskiet het, en dit gedoen het – so gemors het. Daar het aasvoëls op daai restaurant afgekom en hulle het nie teruggehou nie. Hulle vreet toe lekker, want dis vars vleis, en nie die ou vrot vleis wat hulle gewoonlik eet nie. Hulle sê ʼn aasvoël kan ʼn kilogram vleis in ʼn minuut los pluk en eet. Toe het hulle hopeloos te veel gevreet.

Toe my pa-hulle daar aankom, toe wil die aasvoëls wegvlieg, maar hulle kon nie. Hulle kan nie opstyg nie, want hulle is te dik gevreet. Hulle kon net bietjie hardloop en hulle vlerke so waai. Dit het gelyk soos ʼn vliegtuig waar die aanloopbaan te kort is.

En weet jy, hulle sê as ʼn aasvoël te dik is dan gaan lê en slaap hulle eers daar op die grond totdat hulle beter is.

 

Dis nou hier waar ek ʼn vraag gehad het. Ek vra, “Watter diere eet aasvoëls, soos in aasvoëlvleis?”

My pa sê toe, “Ek weet nie, hulle stink. Ek dink nie eers ʼn hiëna of jakkals sal lus wees vir hom nie.”

Nou wonder ek hoe weet my pa dat aasvoëls stink.

 

En daar was so ‘n ou ‘kommin’ laaste storie.

My pa het vertel:

Ai ou sus, dis sommer ʼn simpel storie die.

Die ouens het ook gaan jag en die leeus brul so in die verte. Die een ou se maag raak toe seer en hy loop so om te gaan sit vir die magie.

Sy pel sê hulle moet kyk, hy gaan die man ʼn bietjie gaan skrik maak. Daar loop hy so ʼn wye sirkel, en hy kyk so teen die lig van die vuur. Hy sien die ou, en hy kom toe saggies nader.

“Whaa!” sê hy.

“Whaa!” maak die leeu. Daar hardloop die leeu toe weg. Dis nou net ʼn storie, jy weet.

Daar is ʼn ander storie ook. Dis ook oor ʼn klomp ouens wat gaan jag het. Hulle het so gesit en ontspan langs die vuur, en die een ou het sy boots oopgemaak dat sy voete kan lug kry.

Hel, toe sien een van die ouens daar ʼn leeu en almal hardloop. Met die hardloop trap iemand hier naby die vuur op ʼn tak en die tak skiet die kole in die lug in, en dis toe sommer ʼn deurmekaar spul. Een van daardie kole val toe in die ou se oop boot in.

Toe die dinge kalm word en die leeu weg is, toe kyk die ou die manne so en sê, “Sjoe, brand so drol my nou!”