Ek dink enigiemand wat al ooit ʼn riller gesien het, is bang om hulle voete oor die rand van die bed te laat hang wanneer hulle slaap. Dit voel asof ʼn monster of spook jou voet gaan gryp en jou uit die bed uit ruk. Wel, ek het vir baie jare lank ʼn regte klein monster onder my bed gehad.
Vandat ek kan onthou was ek bang vir die donker, en dis sleg om dit te erken, maar ek is nog steeds. Dit voel altyd asof iemand vir my kyk. Vir ʼn lang tyd was daar iets wat vir my gekyk het – my hond.
My ouers het ʼn miniatuur Border Collie, Vicky. Toe ek nog by my ouers gebly het, het Vicky onder my bed geslaap. Om eerlik te wees, enige tyd wat sy bang was vir iets het sy na my kamer toe gehardloop en onder die bed gaan wegkruip.
Dit was ʼn baie gemaklike bed en wegkruipplek vir haar, want ons het ʼn matras en ander beddegoed onder my bed gebêre. Die bedraam was nogal hoog, so dit het sin gemaak om die beddegoed en matras onder die bed te hou.
Daai hond het baie skelmpies rondgeloop. Ek sou gereeld op my rekenaar besig wees en dan loop sy in die kamer in en kruip suutjies onder die bed in sonder dat ek dit agterkom. Later as ek opstaan en langs die bed staan dan voel ek net iets harig teen my been. Dan skrik ek my boeglam.
As ek afkyk dan is dit Vicky se been of stert. Dit maak nie saak hoeveel keer dit gebeur het nie, ek het elke keer geskrik. So ja, ek het ʼn monster onder my bed gehad.
Ek mis die honde verskriklik en ek kan nie wag om hulle weer te sien nie.