My pa bly lankal nie meer op ʼn plaas of in die Kalahari nie, maar ons hoor gereeld stories daarvan. Die stories het gewoonlik uitgekom as my pa van die werk afgekom het en ons almal in die sitkamer gesit en gesels het met ʼn koffie in die hand. Toe stel my ma die naam ‘Koffiekaskenades’ voor, want ons het van al die kaskenades gehoor terwyl ons koffie gedrink het.
ʼn Paar jaar terug het ek begin om van my pa en oom (pa se broer) se stories op te neem en neer te skryf. Daar het nie veel daarvan gekom nie. Ek wou dit graag in ʼn boek verander, maar vir tyd en wyl sit ek dit hier op die internet vir almal om te geniet.
Let wel, ek betwyfel hoeveel waarheid steek in van hierdie stories. Baie daarvan het my pa of oom by ander mense gehoor, en seker maar hulle eie stertjies gelas soos hulle dit vir my vertel het. So, sommige van die stories moet jy met ʼn knippie sout vat. Ek het ook meeste van die name verander, net vir ingeval ʼn storie dalk waar is, en die mense nie geïdentifiseer wil word nie.
Laastens, ek en my man het ook onlangs Australië toe getrek, so hierdie stories is ʼn lekker projekkie waaraan ek en my pa saam kan werk, al is hy ver.
So kry ʼn koppie koffie en geniet die stories uit die Kalahari.